Die Bob Dylan Vertalingsdebat


Koos van der Merwe se vertalings van Leonard Cohen asook Bob Dylan se liedjies het in die media uiteenlopende gesprekke aan die gang gesit. Ons deel sommige van die opinies met jou... en laat jou graag toe om self te oordeel!

Afrikaans het helaas nie woorde vir Dylan-psige
Dylan laat hom nie sommer vertaal nie
Deur Riaan Grobler Vrydag 17 Julie 2015 04:00
 
Op 21 Januarie 1968 het Jimi Hendrix begin om sy weergawe van Bob Dylan se “All Along the Watchtower” in Londen op te neem. Dit was ’n lang proses wat tot Augustus van daardie jaar geduur het, grootliks omdat Hendrix keer op keer ontevrede was met verskeie aspekte van die opname.
Noel Redding het aanvanklik die baskitaar gespeel, maar hy het moeg geraak vir Hendrix se hoë eise en in die middel van die opname sy goed gevat en geloop. Dave Mason het toe op baskitaar oorgeneem, maar Hendrix was steeds nie tevrede nie en het uiteindelik sélf later die baskitaar gespeel.
Die resultaat sou uiteindelik ’n ikoniese cover wees, meer suksesvol as Dylan se eie weergawe op die trefferlyste. Die Britse tydskrif Total Guitar het Hendrix se weergawe aangewys as die beste cover van alle tye.

Dylan self was vol lof vir die jong Hendrix. “Dit het my oorweldig,” het hy gesê. “Hy het goed in die lied raakgesien en ontwikkel wat ander mense nie kon raaksien nie.”

Hendrix het reggekry wat min ander kunstenaars kon – om Dylan se grootsheid te oortref. En wat ’n grootse kunstenaar is Dylan nie! Benewens sy miljoene aanhangers wêreldwyd word hy ook deur ander groot kunstenaars gehuldig. Die oud-Beatle Paul McCartney het Dylan as ’n genie beskryf. Om Dylan se 30 jaar as kunstenaar te vier, het ikoniese kunstenaars soos Eric Clapton, Tom Petty, Neil Young, Stevie Wonder, Lou Reed en vele ander in 1992 opgetree by ’n konsert waar Dylan se liedjies deur hulle opgevoer is.

Ek was dus skepties toe ek die CD Tamboerynman – Koos van der Merwe se Afrikaanse vertalings van Dylan se liedjies – kry. Om Dylan se werk te vertaal en op te neem, is ’n enorme uitdaging.

Vir eers is Dylan se komplekse, ontoeganklike lirieke so te sê onvertaalbaar. Dylan se binnerym alleen het ’n dinamika van sy eie. Sy lirieke is dubbelsinnig. Die perfeksionistiese Dylan het elke woord met rede gekies. Trouens, vir Dylan is sy lirieke die belangrikste van alles. Verskeie musikante wat saam met Dylan gewerk het, het al vertel hoe hy op die dag waarop opnames vir sy liedjies sou begin, net met bladsye vol lirieke by die ateljee opgedaag het.
Tweedens moet ’n mens musikaal reg laat geskied aan iemand soos Dylan. Hendrix kon dit regkry. Daar was ander kunstenaars ook wat ikoniese weergawes van Dylan se werk kon lewer. Dink maar aan Guns N’ Roses se unieke “Knockin’ on Heaven’s Door” en Eddie Vedder van Pearl Jam se meesterlike weergawe van “Masters of War”.

Laastens moet ’n mens ook besin oor die sinvolheid van só ’n projek. Is dit nodig om Dylan in Afrikaans te hoor? Dit is vir my moeilik om te aanvaar dat die gehoor op wie dié projek gemik is, nié van Dylan weet nie en ook nie sy lirieke in Engels sal verstaan nie.
Wat ook al Van der Merwe se beweegrede, dit is met die eerste luister duidelik datTamboerynman nie gemaak is om grense te verskuif nie. Die Dylan-klank (aanvanklik die rou akoestiese kitaar en bekfluitjie, later die growwe rock-klanke) maak plek vir ligte, generiese pop. ’n Gevestigde en gewilde klank. ’n Resep wat werk.

Daarom sal Tamboerynman waarskynlik tot ’n bepaalde gehoor spreek. Maar van ’n Hendrix of Vedder is daar nie veel sprake nie, al het Van der Merwe virtuose soos die kitaarspeler Mauritz Lotz tot sy beskikking gehad.

’n Ander uitdaging was sekerlik die liedkeuses. Met die korpus werk wat Dylan oor die dekades heen gelewer het, is dit haas onmoontlik om te kies!
Van der Merwe het egter goed gekies en die liedjies op Tamboerynman is taamlik verteenwoordigend van Dylan se vele fases en metamorfoses: die protesliedjies (“Verlore in die wind”), die surrealistiese droomliedjies (“Tamboerynman”, “Orals om die wagtoring”) en selfs Dylan se kortstondige geloofsfase (“Ek glo in U”).
Die grootste vraag is egter of die vertalings geslaagd is. Want hier gaan dit nie net oor taalkundige aspekte nie, maar ook (en veral) die emosionele.
Vir geharde Dylan-aanhangers is sy woorde heilig. Soos gebede kan hulle sy digkuns woord vir woord resiteer.

En hoewel die “makliker” Dylan-liedjies redelik akkuraat vertaal is (soos “Dat jy my liefde voel” en “Hy was ’n vriend van my”), is dit by die meer komplekse werke van Dylan waar dinge lelik begin skeefloop. Die titelsnit, “Orals om die wagtoring” en “Skuiling teen die storm” is voorbeelde hiervan. En dit is nie noodwendig weens taalkundige onbeholpenheid nie, dis omdat jy dié soort lied net eenvoudig nie kan vertaal nie. Dis deel van ’n Dylan-woordeskat en psige waarvoor daar nie woorde in Afrikaans is nie. En dít is waar Tamboerynman die verste tekort skiet.

Een van die lekkerste stories oor Dylan is toe hy in die 1960’s sy bekfluitjie en akoestiese kitaar geruil het vir elektriese instrumente. “Judas!” het ’n konsertganger in Londen hom toegesnou. “You’re a liar,” het Dylan in die mikrofoon terug gekoggel, omgedraai en aan die band gesê: “Play it f*cking loud!”

Tamboerynman is egter nie ’n album wat verdien om kliphard gespeel te word nie omdat Van der Merwe uiteindelik nie daarin slaag om enigiets uitsonderliks met Dylan se liedere te doen nie.
 

Bob Dylan sou trots wees as hy Afrikaans kon verstaan
Deur Francois Mulder Dinsdag 21 Julie 2015 06:07
 
Dit is met ’n gevoel van ontnugtering dat ek dikwels lees hoe maklik resensente kreatiewe werk kan verguis op grond van subjektiewe voorkeure en vooroordele.
Riaan Grobler se resensie van Koos van der Merwe se lofgedig aan Bob Dylan getiteld, Tamboerynman, is ’n sprekende voorbeeld hiervan.

Nes Anton Goosen het hy besluit “Leonard Cohen en Bob Dylan in Afrikaans” is ontoelaatbaar en heiligskennis. Ek vermoed Grobler het sy vooroordele reeds omarm voordat hy reggeskuif het om te luister en daarna te skryf oor hierdie projek. Ek glo hy sou die presiese artikel kon skryf sonder om die CD te luister en die teks te lees.

Hy het klaar besluit: “Afrikaans het helaas nie woorde vir Dylan-psige.”

Ek verskil heeltemal met dié standpunt van Grobler! Koos van der Merwe het die “onmoontlike” vermag deur die Dylan-psige in Afrikaans te ontsluit. Ek beleef sy Cohen- en Dylan-projek as uiters geslaagde pogings om die ikone te laat grondvat in Afrikaans. Sy respek vir Cohen en Dylan is deurgaans duidelik. Die vertalings is veel eerder poëtiese omdigtings, geen woord-vir-woord dwingelandy nie.

Natuurlik is daar te veel resepmatige Afrikaanse musiek. As Dylan-aanhanger – wat al sy CD’s besit – is ek óók moeg vir vertaalde populêre Duitse melodieë wat skaamteloos gekaap word en nuwe middelmatige skeppings word ter wille van die almagtige Mammon. Juis daarom salueer ek elke ware Afrikaanse digter en komponis uit die verlede en hede.

Om Koos van der Merwe egter te brandmerk as deel van die kitskos-musiek-mark, is ’n totale mistasting! Sy 2009 solo-CD, Ter wille van die opdaag, is deur Koos Kombuis geprys! Kyk verder na sy katalogus oorspronklike, satiriese, bytende Afrikaanse skeppinge as deel van die sanggroep Prophet op CD’s soos Ban hom uit die sinagoge, Paradysplagiaat, Heilige koeie, Plastiek-kansels en Broos onder die blou son.

Die kommersiële sukses van die Cohen- en Dylan-projekte inspireer hopelik die bedryf om nog meer diepgaande skeppings van gehalte te omarm en te bemark.
Oor Leonard Cohen in Afrikaans het ek in 2013 in Kerkbode ’n artikel geskryf: “Dis Leonard Cohen wat kom kuier voor jou kaggel en sing in jou hartstaal: Afri-Kaans!”

Met die aankondiging van die Dylan-projek, het ek gewonder of Van der Merwe se stem dieselfde impak sou hê as met die Cohen-projek. Elke Dylan-aanhanger weet tog dat niemand hom kan namaak nie. Gelukkig is Tamboerynman nie Koos Dylan of Bob van der Merwe wat rym en sing nie. Dis Koos van der Merwe wat op ’n meesterlike wyse van Bob Dylan se bekendste liedere vertolk in aangrypende Afrikaans. Dis ’n briljante produksie wat Bob Dylan opreg en diepsinnig eer. Vir die haters en kritici wat “die hemele behoed ons” gil: as Robert Allen Zimmerman, (gebore op 24 Mei 1941) Afrikaans kon verstaan, sou hy trots gewees het op hierdie produk.

Bob Dylan is een van die grootste kunstenaars ooit. Dankie, Koos van der Merwe, vir 59 minute van onafgewaterde kuns wat Dylan aan ’n nuwe gehoor bekend stel.  Lank lewe die Tamboerynman!


Wanneer ek 'n joernalis nie ernstig opneem nie
Deur Ben Beukes Vrydag 31 Julie 2015
 
Sinvolle debat voorveronderstel objektiwiteit en respek. Respek vir logika en vir jou medemens. Die gebrek hieraan in Riaan Grobler (alias Grobbies in die sosiale media) in die Beeld se Leefstyl van 17 Julie geskryf oor die Dylan-album is skreiend. Ek, en enige leser vir wie bogenoemde kriteria belangrik is, durf hom nie ernstig opneem nie.
 
Lank voor die Dylan-album opgeneem is, of die vertaalde werk bekend was, het hy reeds in die sosiale media saam met 'n stiksienige klein groepie gespreksgenote, dit snedig, beledigend, en sarkasties duidelik gemaak dat hierdie album ongewens, en die werk van 'n geldgierige opportunis is.
 
Dit sou vir die redaksie van Beeld 'n nuttige oefening wees om op datum te kom met Grobler se menings, lank voor die Dylan-album vrygestel is voor hulle sy resensie so 'n prominente plek in hul blad gegee het.
 
Hulle sou in sy uitsprake en die van sy gespreksgenote kennis neem, in taal wat hulle nie sou wou publiseer nie, dat Koos se intensies, intellek, taalkundige vermoëns, selfs geloof en karakter onder sterk verdenking is. As self-aangestelde bewakers van die Dylan-kanon, onder aanvoering van Grobler, die objektiewe Beeld verslaggewer, het hierdie groep hulle heksejag van stapel gestuur vanuit 'n bedompige, beterweterige, siniese hoekie van hulle eie klein, klein, een-ogige heel-al. Tereg het Francois Mulder as repliek op Grobler se resensie gemeen Grobler sou 'n identiese mening oor die album gee ook voor hy daarna geluister het. Die waarheid is dat hy hierdie menings lank voor hy na die CD geluister het reeds openbaar gemaak het.
 
Grobler beroep hom op sielkundige gesaghebbendheid. Dit is volgens hom onmoontlik dat Afrikaans die Dylan-psige kan verwoord. Hoekom? Want hy sê so. Geen rede, geen bron, geen verdediging of verduideliking van sy mening nie. Nee, ons moet hom glo. Hy weet. Hy is mos 'n joernalis. Hy kan mos kryf. En ons lees dit mos nou. En dis in die koerant. Wat wil ons nou meer hê? Helaas, heelwat meer, meneer Grobler…
 
Hy voel beswaard dat die musiek op die CD nie klink soos Dylan se musiek nie. 'n Mens wonder of hy die konsep van 'n tribute album verstaan, en of hy al na enige sodanige huldeblyk, waarvan daar talle is, en in verskeie tale, geluister het. Klaarblyklik sou hy eerder 'n nabootsing as 'n huldeblyk verkies.
 
Natuurlik is hy terdeë bewus dat 'n huldeblyk-album juis dikwels vanuit ander musikale sfere met die musiek waaraan hulde gebring word omgaan om daardeur te beklemtoon dat dié musiek groter is as een styl en universeel sal spreek, ja, selfs tot die armsalige Afrikaanse psige. Hy is bewus, maar moedswillig, en maak daarop staat dat sy lesers oningelig is en as Afrikaanses nie net psigies nie, maar ook intellektueel genoeg uitgedaag is om nie deur sy gebrekkige argumentvoering te sien nie.
 
Verslaggewing van hierdie kwaliteit hoort nie tuis in ernstige koerante nie. Ernstige lesers soek na objektiwiteit in in goeie joernalistiek. Natuurlik saam met kundigheid, eerlikheid, deeglikheid, rasionele aanspreeklikheid en miskien nog 'n paar ander eienskappe wat in beskaafde samelewings tuishoort. Op die lange duur doen 'n joernalis homself 'n guns deur dit te onthou.
 
En miskien is daar 'n verwante kwaliteit wat in so 'n joernalis se guns kan tel, selfrespek. Die wete dat sy agenda suiwer, sy idees nie vooropgestel nie, en sy werkswyse eties is.
 
Talle kundige kritici meen Tamboerynman is 'n uitstaande album. Hierdie skrywe gaan egter nie oor die meriete van die CD of die vertalings nie, dit gaan oor die meriete van 'n resensie. Grobler meen die Dylan CD verdien nie om hard gespeel te word nie. Ek hoop hy kan in die toekoms iets bied wat hard gelees kan word.
 

Koos se opinie...
Deur Koos van der Merwe Dinsdag 04 Augustus 2015
 
Ek het lank en diep nagedink oor Riaan Grobler se kritiek op my Dylan-hulde, Tamboerynman, in Beeld se Leefstyl van 17 Julie: Afrikaans het helaas nie woorde vir Dylan­psige.
 
Ek het allereers besluit dat ek later, en nie vinnig nie; en beslis nie onmiddelik nie, sou reageer. Meestal omdat ek nie my Dylan-hulde in 'n debat wat op 'n heen-en-weerdery van selfsugtige dwarsklappe kon uitloop, wil verswelg nie. Daarom hou ek hierdie reaksie bondig, sonder vele verwysings na soortgelyke projekte die wêreld oor.
 
Dat my Dylan-hulde Riaan se soort kunstekritiek kon ontlok dui vir my aan dat Tamboerynman dinge doen wat luisteraars se gemaksone uitdaag; dat Tamboerynman ongemak veroorsaak. Soos Dylan se aktivisme in die sestigerjare ongemak veroorsaak het toe hy oor dinge besin het waaroor sy luisteraars nie noodwendig gedink het totdat hulle hom gehoor het nie. Dit was die sestigerjare, toe my teenswoordige gehoor se ore en koppe deur Apartheid toegestop is; toe baie van my ouderdom dalk na Dylan geluister het, maar Dylan nie kon hoor nie.
 
Wat ek met Tamboerynman nié probeer doen het nie, was om Dylan te vertaal.  Wat ek met Tamboerynman probeer doen het, was om my liefde vir Dylan in die taal van my hart uit te druk.
 
Neil Diamond sê oor sy album Dreams dat hy die liedjies nie probeer vervang of probeer om te kompeteer nie, maar om die liedjies te vier – to celebrate the songs themselves.
 
Tamboerynman is 'n hartsfees van my liefde vir Dylan se musiek in die taal van my hart. Ek het dit vir myself gedoen. Om met ander te deel. Wittgenstein se beroemde uitspraak, dat die grense van my taal die grense van my wêreld is, gee my die vlerke om Dylan verder te vier as 'n gehoor wat hom slegs in sy oorspronklike taal kan hoor. My grense is wyer. 

Sien verdere gesprekke op Facebook: