Nuusbrief September 2017

Nagverse

Koos se nuwe digbundel ‘Nagverse’ is sopas deur Carpe Diem uitgegee. Ek deel graag ‘n paar gedigte uit die bundel met julle.

 

gebed tot 'n klein God

o God

groter as die heelal

behalwe eens

in Bethlehem

wees klein vanaand

o Here

onbeperk

buiten eens

op Golgota

begrens Uself

hier by my karige adres

wees vanaand

nie alomteenwoordig nie

wees vanaand vir my

nêrens as hier nie

ook nie almagtig nie

maak u doen

min genoeg

om net één hart

stil te maak

 

roep

ek hoor hoe roep die maan

hy roep maar net jou naam
 

ek sien hoe soek die son

na jou van blom tot blom
 

ek hoor hoe huil die wind

hy huil tot hy jou vind
 

ek sien hoe wink die nag

waar sterre vir jou wag
 

daar’s oral altyd iets van jou

in lig in donker grys en blou
 

en waar ek swerf of waar ek bly

is al wat kortkom altyd jy

 

 

bly

sal jy Januarie

weer vir my

kom sê dat jy

tot einde Mei

en dan Desember

lief vir my

sal bly

dat jy môre

tot oormôre

sal kom bly

en die dag daarna

na nêrens ry

sal bly

en bly

en net sal trek

as ek en jy

tot ander jaar

en jaar na jaar

by mekaar

sal bly

 

tempel

die oralsheid

kom naby

omheid

wat 'n inheid word

getempelde begrensing

heilig

soos asem

en weet

en wees

hemel bo

word hemel hier

 


Nagverse hier aanlyn te kry:

 

Droom Martha Droom Optredes vir September

Woensdag 27 September
Die Blou Hond, Pretoria
Besprekings: http://www.casatoscana.co.za/events-shows/events

Donderdag 28 September
Woord en Lewe Gemeente, Boksburg
Navrae: elaine@woordenlewe.co.za  

Vrydag 29 September
Tarentaalteater, Rustenburg
Besprekings: http://www.tarentaalteater.co.za

Dinsdag 3 Oktober - Vrydag 6 Oktober
Aardklop kunstefees, Potchefstroom
Kaartjies by Computicket



Vir meer inligting en besprekings, kontak gerus vir Yolandi by: 082 325 3053 of yolandi@koosvandermerwe.co.za

Om hierdie nuusbrief te ontvang, gaan na www.koosvandermerwe.co.za en vul jou besonderhede in by 'Kry Koos Nuus'.

Geniet die nuwe gedigte!

Yolandi van der Wath

Nuusbrief Julie 2017

Droom Martha Droom - gedigte wat na wysies gesoek het

Die hart hunker. Na waarheid. Na sin. Na ontmoeting. En na skoonheid. Skoonheid selfs uit donkerte. Uit pyn.

Vir dekades dwing my binneste my reeds om te probeer woorde gee aan hierdie dieper hunkering. En dan, wanneer die woorde kom, dan wens ek ek was 'n beter musikant. Veral voel ek daardie hartseer wond wanneer ek 'n bedrewe pianis betrag. Dan flits my kinderjare en kanse wat nooit gekom het nie voor my. En ek wonder hoe dit sou wees om my eie woorde die musiek te gee waarna ek voel hulle roep. En ek wonder of daar iemand sal wees wat die woorde presies kan laat klink soos wat ek dit sou wou doen as my vingers die kans gehad het om te leer wat om op die wit en swart klawers te doen.

Toe ontmoet ek Matthys Maree. Dit is nou die vyfde jaar sedert ons begin saamwerk het. Aan Droom Martha Droom se lirieke timmer ek al baie jare. Vir sommige het ek op my kitaar wysies uitgeworstel. Maar toe Matthys my woorde uiteindelik besoek met sy betowerende vermoë op die klavier het iets tot stand gekom wat meer is as waarvoor ek ooit sou kon wens. Slegs een van my eie wysies het behoue gebly. Die ander het almal nederig in die vergetelheid verdwyn, dankbaar dat hulle vir 'n kort rukkie deel kon wees van iets wat uiteindelik musikaal só meesterlik verhewe is bo hulle nederige kort bestaan.

'n Mens moet sekerlik nie so dink as jy in jou laat vyftigs is nie, maar miskien is Droom Martha Droom die laaste album wat ek sal opneem. Indien die voorreg om weer so iets te doen my nie beskore is nie, sal ek met diep dankbaarheid onthou dat daar één album was waar my eie woorde oneindig meer geword het as wat dit was toe dit nog net gedigte was. Iets het in hierdie album gebeur. Iets waarvoor 'n digter wat ook liedjies wil maak altyd hoop, al sou dit net een keer in sy lewe kon gebeur: Dat elke noot en elke klank volkome een word met elke woord.

My wens is dat hulle wat smag om vir 'n oomblik weggevoer te word na skoonheid, na 'n wêreld waar die hart sy eie pyn en vreugde eien in die verhale van ander harte, met Droom Martha Droom sal voel hulle het by só 'n oomblik gekom.

Groete, 
Koos


Só 'n voorsmakie:

CD hier aanlyn te kry:

Optredes vir Augustus

Donderdag 3 Augustus
Droom Martha Droom
Pierneef Teater
Kaartjies by: info@pierneefteater.co.za / www.pierneefteater.co.za

Vrydag 4 Augustus
Droom Martha Droom
enRoute Teater, NG Tygerpoort
Besprekings: www.ngtyger.com 

Woensdag 9 Augustus
Droom Martha Droom
Kalfiefees, Hermanus
Kaartjies by Computicket

Donderdag 10 Augustus
Droom Martha Droom
Ou Meulteater, Paarl
Kaartjies by michelle@oumeulteater.co.za / http://www.oumeulteater.co.za/blog/

Vrydag 25 Augustus
Droom Martha Droom
Mc Greggor Gedigtefees
Kaartjies by Computicket
Tyd: 8:30pm

Saterdag 26 Augustus
Nagverse Digbundel Vrystelling
Mc Greggor Gedigtefees
Kaartjies by Computicket
Tyd: 9:00pm
 



Vir meer inligting en besprekings, kontak gerus vir Yolandi by: 082 325 3053 of yolandi@koosvandermerwe.co.za

Om hierdie nuusbrief te ontvang, gaan na www.koosvandermerwe.co.za en vul jou besonderhede in by 'Kry Koos Nuus'.

Alles wat mooi is vir Augustus 2017!

Yolandi van der Wath

Nuusbrief Junie 2017

Koos groet Sarie

Liewe vriende

Vir die afgelope vyftien jaar was dit my voorreg om vir Sarie Tydskrif te skryf. Honderd en tagtig rubrieke. Dit was 'n wonderlike reis.

Omdat ek dié tydskrif so hoog aanslaan het ek sleg gevoel om vir Michelle van Breda, redakteur van Sarie, te laat weet dat ek nie meer vir Sarie sal skryf nie. En juis omdat Sarie se redaksie so 'n professionele en aangename klomp mense is was dit vir my nie 'n maklike besluit nie. Om vriende te groet, en dalk teleur te stel, is nie iets wat 'n mens aldag wil doen nie.

Maar alle seisoene kom tot 'n einde. Ek beplan al 'n geruime tyd om meer te skryf en te publiseer, en op die regte oomblik het Carpe Diem my genader. Ek is opgewonde oor die pad vorentoe. Buiten boekpublikasies vir Carpe Diem sal ek voortaan vir Finesse tydskrif 'n agterbladrubriek getiteld “Stukkies Hemel” skryf. Ek hoop om lesers bewus te maak van die vensters wat daar in die alledaagse is wat vir ons 'n kykie in die ewige gee.

Eersdaags publiseer Carpe Diem my nuutste digbundel, Nagverse. Dit sal 'n boek wees wat jy op jou koffietafel wil sit, 'n glansbundel, geïllustreer deur my talentvolle dogter, Claudi van der Merwe.

Ek groet Sarie met goeie herinneringe, en ek vat hande met Carpe Diem en Finesse met opgewondenheid oor die toekoms.

Groete,

Koos


Nuutste projekte

Bespreek Koos vir enige van die volgende optredes:

Droom Martha Droom CD Vrystelling

In Droom Martha Droom kry jy Koos se kenmerkende poëtiese aanslag, maar verwag ook 'n paar verrassende energieke en stomende liedjies soos Katoen, Vat Aan My en Hart Van Afrikaans. Die musikale regiseur van die album is Matthys Maree, wat ook die musikale brein agter Koos se vorige twee albums, Leonard Cohen in Afri-kaans en Tamboerynman was. In hierdie produksie word Koos se nuwe digbundel, Nagverse, ook bekendgestel. Koos bring sy kenmerkende, effe melancholiese dog vleimskerp humoristiese blik op die lewe en die liefde met meestal liedjies uit sy eie pen, maar ook ‘n laaste huldeblyk aan Leonard Cohen met “Take This Waltz” (in Afrikaans). Twee van Jaques Brel se heel grootste skeppings vorm ook deel van hierdie uiters keurige en diepsinnige repertoire.

Die eerste vertonings van Droom Martha Droom is staande toegejuig. Moenie hierdie vertoning misloop nie!

Vlugplek –‘n Sondagaand Vertoning by jou gemeente

Koos se mees gewyde skeppinge van die afgelope meer as dertig jaar beskikbaar op sy nuwe dubbel-album: Vlugplek. Drie Dekades. Musiek vir Eenkantkom. Liedjies soos Bidplek en Naggebed en die nuwe akoestiese opname van Houtkruis sal jou na heilige plekke toe neem.Koos het ook ingestem om vir die eerste keer in jare weer op Sondag-aande in gemeentes te kom bedien met musiek van die hart en woorde van bemoediging.


Optredes vir Junie

Vrydag 16 Junie
Droom Martha Droom
Bordienghuis, Wellington
Kaartjies by: 
teater@breytenbachsentrum.co.za  /  073 435 1022

Saterdag 17 Junie
Koos by Rust en Vrede Kelder
Rust en Vrede Kelder, Stellenbosch
Kaartjies by: yolandi@koosvandermerwe.co.za  /  082 325 3053

Sondag 18 Junie
Vadersdagvertoning by Die Boer
Kaartjies by: http://www.dieboer.com/bookings.php?id=1303&etab=1
Of kontak: 021 979 1911  /  082 574 1651


Om hierdie nuusbrief te ontvang, gaan na www.koosvandermerwe.co.za en vul jou besonderhede in by 'Kry Koos Nuus'.

Vir meer inligting en besprekings,
kontak gerus vir Yolandi by:
082 325 3053 of yolandi@koosvandermerwe.co.za.

Tot volgende keer!

Yolandi van der Wath

Nuusbrief Mei 2017

Koos se Splinternuwe CD word Sondag 14 Mei by Atterbury Teater Bekendgestel

 

Dink aan goeie rooiwyn. Miskien 'n winter-aand voor 'n kaggel op 'n Karooplaas. Net julle twee. Of jy alleen, verlangend. Die huil van 'n jakkals met net die wind as geselskap kom van ver af. Jy wens vir klanke wat kan inpas. Moenie verder soek as Koos van der Merwe se nuwe album Droom Martha Droom nie.

Vir hierdie album is Koos weer in die geselskap van die meesterlike Matthys Maree. En met Gert Vlok Nel en Koos se stemme wat op twee snitte in droomverlore melancholie weën en rasper, is die afwagting van ou aanhangers en nuwe nuuskieriges groot.

Min kan Koos nadoen as hy met woorde begin timmer aan die hart. Dit wat die afgelope drie jaar gebore is gee aan Matthys wat nie net aan die stuur van die produksie is nie, maar ook van Koos se poëtiese skeppinge getoonset het, materiaal om 'n Afrikaanse album wat enig in sy soort is die lig te laat sien.

Vroegwinter 2017 sal jy jou kan verluister aan die liefde. Êrens wag Martha vergeefs dat hy wat gekom het en gesê het hy kom weer sy beloftes sal hou. Elders besing 'n verowerde weer hoe Katoen met hom maak as dit om háár lyf is. 'n Ander troebadoer wens Katrien was nie die flerrie wat sy is nie. Gert Vok Nel wonder saam met Koos oor Die Gebreektes op hulle brose reis. Gert maak ook van 'n ontmoeting op Die Hoek van 1998 en Derde Straat 'n ode aan eerste liefde.

Elke snit is 'n poëtiese reis na die lig en die kaduwee’s van die liefde. Droom Martha Droom is 'n album met gewig, tog is dit dromerig en speels. Jaques Brell se klassieke Marieke en Laat My By Jou Bly pas soos 'n hand in 'n handskoen by Koos en Matthys se oorspronklike skeppinge. Met Neem Die Wals bring Koos vir oulaas ook 'n huldeblyk aan Leonard Cohen wat in 2016 weggeneem is van ons wat altyd na hom sal verlang.

Die wat weet sê jy kan maar uitsien na die winter. Daar sal klanke wees vir die kaggel en die rooiwyn.

 


Bespreek nou by Computicket:



Sondag 14 Mei

Atterbury Teater, Pretoria






 

Ek stuur binnekort inligting oor Junie optredes.

 


Om hierdie nuusbrief te ontvang, gaan na www.koosvandermerwe.co.za en vul jou besonderhede in by 'Kry Koos Nuus'.

Vir meer inligting en besprekings,
kontak gerus vir Yolandi by:
082 325 3053 of yolandi@koosvandermerwe.co.za.



Sien julle daar!

Yolandi van der Wath

Nuusbrief November 2016


Here, beantwoord tog net nie sy gebed nie…
 

Dit is die een gebed van Leonard Cohen wat sekerlik nooit beantwoord sal of mag word nie: “If it be your will that I speak no more, and my voice be still as it was before…”
 
Want hoe kan só 'n stem stil word? Sekere stemme word vervang. Opgevolg. Maar Cohen kan nie opgevolg word nie. En juis daarom sal sy musiek bly voortleef. Omdat net Cohen Cohen kon skryf en dink en wees.
 
Hoe vervang jy Cohen of Dylan, Van Gogh of Shakespear? Nee, jy bly net luister. Want sulke stemme kan nie sterf nie. Die hartseer van hierdie dag, is nie dat 'n stem stil geword het nie – dit wat hy gesê het sal altyd spreek – maar eerder dat sy repertoir voltooi is. Wat ons van Cohen het, hoe onvervangbaar waardevol ookal, is nou al wat ons van Cohen sal hê. En dit maak November 2016 'n hartseer maand.
 
As jy na musiek soek wat jou laat ontvlug, hou verby hierdie gentleman van die verhoog. Een soos hy was te dapper om jou óm die donker en die seer te neem. Sy musiek is 'n reis tot binne in die donker stukkendheid van die lewe en die liefde. En nou en dan miskien tot deur die donker of dalk net tot naby die lig.
 
As jy na musiek vir die partytjie soek, hou syne vir die laaste stadiger danse. Daardie danse waar die lyf en die hart eerlik raak. Nou is dit óf net vlees teen vlees in die eensaamheid van begeerte, óf dit is hart teen hart in die onsekerheid van waarheen hierdie liefde op pad is. Of dalk, hier en daar is dit die omhelsing van oneindige liefde. Maar vir seker sal dit hier aan die einde van die dans by jou bly: Só is die liefde. Dit verwonder en dit verwond.
 
Kerkmusiek sal jy nie hier kry nie. Maar dit sal jou soms wil laat bid. Of wroeg met die stryd en onsekerheid van jou geloof en ongeloof. Beide gelowige en ateïs wil kniel. Want iets van ons gedeelde stryd het 'n stem gekry.
 
En die stem het stil geword.
 
En die stem sal nooit stil word nie.

 


Koos tree die volgende paar dae in die Kaap op met ‘n huldeblyk aan Leonard Cohen


17 November:  Die Boer, Durbanville
18 November: Ou Meulteater, Paarl
20 November: Miss Ruby Presents, Swellendam.


Inligting oor besprekingsopsies op Facebook: https://www.facebook.com/Koos-van-der-Merwe-182668081291/


 

 

 


Om hierdie nuusbrief te ontvang, gaan na www.koosvandermerwe.co.za en vul jou besonderhede in by 'Kry Koos Nuus'.

Vir meer inligting en besprekings,
kontak gerus vir Yolandi by:
082 325 3053 of yolandi@koosvandermerwe.co.za.



Sien julle daar!

Yolandi van der Wath

Nuusbrief September 2016


Hondvis
 
Hy is oud. In die nag kom die drome. Is dit hoe die dood lyk? Bekroonde skilder, Barry de Villiers, het die nag se donker beelde getakel met sy grootste wapen – die kuns. En so het unieke meesterstukke tot stand gekom. Die vrese van die nag weggeverf tot kuns.

Aangegryp deur hierdie kunswerke het Koos van der Merwe begin dig en skryf. Hondvis, die titel van een van Barry se werke, dien as inspirasie vir 'n vertoning met musiek, gedigte en gedagtes oor die kortstondigheid van die lewe, die vlietendheid van die liefde en die drang in die binneste om te bly glo in skoonheid, al kom die nag se skimme om die teendeel te verkondig.



Op die verhoog saam met Koos is Barry de Villiers met sy weergalose kunswerke.

Datum:  22 Oktober 2016
Navrae: Henriette - 082 674 3688



Kerslig vir die Skaduwees
 
Vir Kersfees reis ons soms lang paaie. Om saam te wees. Ons dink aan dinge soos Lig wat kom skyn het. Ons besef maar weer dat ons skaduweeharte die Lig nodig het, juis omdat ons wêreld dikwels so 'n donker plek is. 'n Kersvertoning met Koos se liggies is nie té blink en vrolik nie, want die wêreld is nie te blink en vrolik nie. Met gedigte en musiek wat gewone harte help om vanuit die skaduwees die Lig te sien sal Koos se 'Kerslig vir die Skaduwees' 'n onvergeetlike, unieke en effe alternatiewe begin vir jou Kersseisoen en jaareinde reis wees.

Om hierdie Kersfees/ Jaareind optrede in jou omgewing te bespreek stuur asb. jou navraag vir my:  yolandi@koosvandermerwe.co.za
 

 

Nagvers

die nag het 'n tyd
tussen chaos en sin
dis die letter se stryd
om 'n vers te begin
 
die dier roep verbete
die engel kom waak
by die hart se begeerte
om gedigte te maak
 
die bladsy is leeg
en die stilte alom
as jy rympies wil pleeg
en die ink is stom
 
die roete bedek
maar die pelgrim reis aan
want die nag het 'n plek
waar gedigte ontstaan
 
die kompas, verlange
begeerte die krag
om uit donker se drange
die gedig te vermag

(uit Koos se nuwe digbundel ‘Nagverse’)


 



6 Oktober: Nelspruit, Die Stoep
Cohen, Dylan en Koos
Besprekings: 013 741 2551


8 Oktober: Rivonia, Africlassic River Lodge
Brunch-konsert saam met Koos
Besprekings: Computicket
Navrae: branding@africlassic.com


21 Oktober: Rustenburg, Tarentaal Teater
Cohen, Dylan en Koos
Besprekings: Michelé: 079 341 3420
www.tarentaalteater.co.za



22 Oktober: Boksburg, Woord & Lewe
HONDVIS
Navrae: 082 674 3688


23 Oktober: Alberton Lewens Sentrum
Oggenddiens


23 Oktober: Boksburg, Woord & Lewe
Aanddiens & nuwe CD Vrystelling
Navrae: 082 325 3053


 



Om hierdie nuusbrief te ontvang, gaan na www.koosvandermerwe.co.za en vul jou besonderhede in by 'Kry Koos Nuus'.

Vir meer inligting en besprekings,
kontak gerus vir Yolandi by:
082 325 3053 of yolandi@koosvandermerwe.co.za.



Sien julle daar!

Yolandi van der Wath


Al ons vriende in die Boland: Koos tree volgende week in julle omgewing op so kom geniet ‘n gesellige Bolandse wintersaand saam met Koos...
 
 
Cohen, Dylan en Koos. 
Want liefde vra gedigte.

Koos peins en sing en neem jou saam na daardie geheimsinnige plekke van die hart met ’n versameling van sy eie werke, ’n paar meesterstukke van Koos du Plessis en Jaques Brell asook sy nuutste projekte - Leonard Cohen & Bob Dylan se treffers verewig in Afrikaans!

Maak gereed om meegesleur te word met bekende treffers soos ‘Dance Me. To The End Of Love’ (Dans My Na Die Einde Toe), ‘Halleluja’ ‘To Make you feel my love’ (Dat Jy My Liefde Voel) en ‘Hey Mr. Tambourine man’ (Mnr. Die Tamboerynman) in Afrikaans. Ontmoet Koos se eie ‘Katrien’ en hoor die nuutste ‘Droom Martha Droom’ in Koos se besondere storievertel - melankoliese styl!

Vir dié wat gewillig knak voor elke lied en gedig wat omgaan met die hart se skaduwees asook stukkies sonskyn, is hierdie geleentheid ’n moet!

 


 
20 Julie: Westend Teater, Somerset Wes
Pak ‘n piekniekmandjie en kom kuier saam
R120 per persoon. Vertoning begin 19:30
Besprekings: yolandi@koosvandermerwe.co.za



21 Julie: Beyerskloof, Stellenbosch, Restaurant Teater
R120 per person, ete uitgesluit
Etes moet tussen 18:30 en 19:30 bestel word
Vertoning begin 20:00
Besprekings: yolandi@koosvandermerwe.co.za

 
22 Julie: Bordienghuis, Wellington
R120 per persoon
Burgerstraat 14 | Wellington | 7654
Besprekings: 021 873 2786 | 083 462 9613
www.breytenbachsentrum.co.za



 



Om hierdie nuusbrief te ontvang, gaan na www.koosvandermerwe.co.za en vul jou besonderhede in by 'Kry Koos Nuus'.

Vir meer inligting en besprekings,
kontak gerus vir Yolandi by:
082 325 3053 of yolandi@koosvandermerwe.co.za.



Sien julle daar!

Yolandi van der Wath

Psst… ek het opwindende nuwe nuus. Die kreatiewe rookwolkies borrel onder Koos se toe studeerkamerdeur uit: Daar is ‘n nuwe album op die horison!

Jy sal wel moet wag tot Februarie 2016 vir Koos om hierdie splinternuwe liedjies – almal vars uit Koos se pen te hoor, maar omdat jy deel van ons vriendekring is, gee ons jou in die maande wat kom 'n eksklusiewe voorsmakie van wat op jou wag.
 
Ek vermoed jy is waarskynlik op hierdie adreslys omdat jy soms hunker na liedjies wat nie as ligte vermaak beskryf sal word nie, “Die Hoek Van 1998 en Derde Straat” (werkstitel) sal jou nie teleurstel nie. Die liefde word weereens liries besing en so ook die skaduwees van die lewe.
 
Ons hoop jy geniet hierdie eerste aflewering van die nuwe album se lirieke.
 
 

op die hoek van 1998 en derde straat
 
dit was op die hoek van 1998
en derde straat
o ek was op soek want 19ag-en-allenig
was 'n hartseer jaar
jy het om die draai gekom
soos die eerste blaar van 'n lenteblom
toe die armoede van my lyf kom pleit
by die rykdom van jou vroulikheid
 
dit was op die hoek van 1998
en derde straat…
 
jy was op die hoek van 1998
en derde straat
toe jy my kom groet word 19ag-en-bewerig
'n wonderjaar
in jou oë het 'n gedig geskyn
wat die donker in my weg kon rym
jou vel en myne het saamgepraat
wat jou hande sê het my hart verstaan
 
dit was op die hoek van 1998
en derde straat…
 
ons was op die hoek van 1998
en derde straat
in 'n warm gloed word 19ag-en-lewendig
ons mooiste jaar
soos die môrewind by die oggend-dou
toe jou asem warm om my vou
soos die eerste lig van die somerson
soos karooveld maak as die reën eers kom
 
dit was op die hoek van 1998
en derde straat…


 
die gebreektes
 
die gebreektes lê in skerwe
na hul swerwe na dorre plekke
hulle wyfel hulle twyfel
oor die goedheid van die heer
hulle wonder al vir jare
oor die sware stryd van armes
stuk vir stuk het hoop verkrummel
soos wolke skimmel voor die son
 
die gebreektes wens tog steeds dat
iets gebeur wat hul lot verander
miskien eendag op 'n reëndag
sal die lewe anders wees
sal 'n skip kom sal hy inkom
met skatte wat ander ryk maak
dan sal wat oorbly as rykes wegry
oorgenoeg wees vir hul fees
 
die gebreektes hou hul eenkant
aan die ver kant van die lewe
hulle bly daar waar hul weg is
van waar dit sleg is om min te hê
daar begeer hul daar probeer hul
om wat min is te vermeerder
maar die karigheid gedy daar
en hul bly maar aanhou wens
 
die gebreektes word die verkwyndes
die verdwyndes wat niemand sien nie
die bedeesdes die verweesdes
aan die ver kant van die dorp
daar bestaan hul daar vergaan hul
soos geskendes en onbekendes
die verdwaaldes ongehaaldes
wat die rykes liefs vergeet
 
die gebreektes glo maar eind’lik
dat daar eintlik niks sal verander
dat vir hulle dit te duur is
dat daar geen kuur is vir hul pyn
dat die minheid steeds sal meer word
hul sal beheer word deur ryk en slimmes
dat die lewe dit maar bedoel het
dat armes altyd daar moet wees.

 
 


Opkomende vertonings om voor uit te kyk:

Cohen, Dylan en Koos. In Afrikaans.
Koos sing van sy eie nuwe liedjies, een of twee van Jaques Brell en Koos du Plessis en as bonus, sommige van sy Afrikaanse weergawes van Leonard Cohen en Bob Dylan treffers. 

Donderdag  30 Junie  |  19h00  |  R125 / R115

Pierneef Teater, Pretoria
Besprekings: (012) 329-0709 of by die deur beskikbaar
info@pierneefteater.co.za of www.pierneefteater.co.za

Vrydag 1 Julie  |  18h30  |  R150
Suikerbosskuur, Amsterdam
Sop en sjerrie ingesluit.
Besprekings: Ericka: suikerbosskuur@gmail.com
 
Dinsdag 12 Julie  |  20h00  |  R120

Vrystaatfees Bloemfontein, Aasvoëlklub
Kaartjies by Computicket.


 



Om hierdie nuusbrief te ontvang, gaan na www.koosvandermerwe.co.za en vul jou besonderhede in by 'Kry Koos Nuus'.

Vir meer inligting en besprekings,
kontak gerus vir Yolandi by:
082 325 3053 of yolandi@koosvandermerwe.co.za.



Tot volgende keer!

Yolandi van der Wath
In Stellenbosch heers daar ’n opgewonde atmosfeer want die US Woordfees 2016 is om die draai!

Vir ’n week lank word strate, restaurante, sale en galerye gevul met net die beste kunswerke, konserte,  verhoogproduksies, gesprekke, kos demonstrasies, films, dialoë en debatte.

Woordfees 2016 se tema is Bly. En of dit beteken jy is gelukkig, verheug of vrolik, of dalk verwys na die fees wat voortgaan om te wees – die tema bly, wel, bly.

Koos tree by nie minder as 3 geleenthede hierdie jaar op – elk met ’n totaal ander karakter en tema. So indien jy in die omgewing is, maak seker jy kry hom iewers te sien. Kaartjies is by Computicket verkrygbaar.

 
Blye Galme Piekniek konsert
Neethlingshof – 5 Maart – 18:30 – R60/ R80 (kinders halfprys)

Vervaardig deur: Christine Duvenage Falck
Musikale regisseur: Lucas Heinen
Met: Koos van der Merwe, Deidré Jooste, Danie Niehaus, Dupisani, Juanita-Juliet Domingo en The Mustard Seed-koor van Kayamandi

Kom geniet ’n aand van lofliedere, Griekwa-psalms en koormusiek in die pragtige natuurskoon.

Kaartjies ook by die deur beskikbaar.



Rympies in die Vliet

ATKV Boektent – 8 Maart – 14:00 – R50 / R45 (ATKV lede)

Waar word gedigte gaan haal? Die bereplekke is gewoonlik daar waar die hart diep voel. Waar gejubel en getreur word. Waar verwondering en verwonding is. Koos van der Merwe lees voor uit sy digbundel, Rympies in die vliet, sing toonsettings en neem jou saam na die geheimsinnige uithoeke waarheen die hart reis om poësie te oes.



Tamboerynman – Koos sing Bob Dylan in Afrikaans
Neethlingshof  Piekniekkonsert – 11 Maart – 18:30 – R100

Magies. Betowerend. So beskryf musiekkenners en taalkundiges Koos van der Merwe se poëtiese Afrikaanse herskeppings van Dylan-meesterstukke soos "Tamboerynman", "Verlore in die wind" en "Dat jy my liefde voel". Selfs geharde Dylan-aanhangers sal bekoor word deur hierdie huldeblyk, wat met Koos se gedigte en vertellings gekombineer word. Maak gereed om meegesleur te word.

Kom sê gerus hallo as jy in die omtrek is!


 



Om hierdie nuusbrief te ontvang, gaan na www.koosvandermerwe.co.za en vul jou besonderhede in by 'Kry Koos Nuus'.

Vir meer inligting en besprekings,
kontak gerus vir Yolandi by:
082 325 3053 of yolandi@koosvandermerwe.co.za.




Tot volgende keer!

Yolandi van der Wath
2016 lê voor ons met vele opwindende uitdagings. Is dit nie interessant hoe ’n mens elke nuwe jaar, amper onwillekeurig nuwe planne maak nie. Al besluit jy om nié soos vele ander jare Nuwejaarsvoornemens vas te pen nie, gebeur hierdie ‘voornemens’ wonderbaarlik vanself. So is Januarie klaarblyklik die maand wat die meeste mense by Virgin Active aansluit en Februarie die maand wat Woolworths sorg dat sy rakke dubbel die hoeveelheid heilsame, laevet, uitsoek gesonde kosse aanbied – want sy klante vereis dit! Elke jaar bring weer ’n tikkie nuwe hoop en ek glo dit is goed vir ’n mens om vir ’n oomblik dié tyd van die jaar boeke te vat.
 
Hier is Koos se gedagtes oor 2016...
 
Om nie in die pad van die kunste te staan nie

Het jy al 'n vertoning bygewoon en gewens iets wil uit die pad van die kuns kom? En soms is dit juis die kunstenaar wat in die pad is. In die pad omdat hy nie verstaan nie dat ware kuns weg wys van die kunstenaar af.

Kuns beeld die groot temas van die lewe soos skoonheid, edelheid, waarheid, pyn, liefde uit. Dit wys weg van die kunstenaar af na die kuns. Weg van die een wat skep na dit wat geskep word. En op 'n klein en nederige manier weg van die skepper na die Skepper.

Om kunstenaar te wees is 'n droom, 'n voorreg, 'n roeping, maar ook 'n versoeking. Waarvoor ek wens is dat ek al hoe meer kan leer om nie te struikel voor die versoeking van selfverheerliking en in die pad sal wees van die kuns nie. As die boodskapper klein genoeg kan word, sal die boodskap al hoe mooier en al hoe duideliker word.
 
My leermeester, C. S. Lewis stel dit so:
 
“If I have read the New Testament aright, it leaves no room for ‘creativeness’ even in a modified or metaphorical sense. Our whole destiny seems to lie in the opposite direction, in being as little as possible ourselves, in acquiring a fragrance that is not our own but borrowed, in becoming clean mirrors filled with the image of a face that is not ours… the highest good of a creature must be creaturely – that is derivative or reflective – good… pride does not go before a fall but is a fall – a fall of the creature’s attention from what is better, God, to what is worse, itself.”

Groete,
Koos
 

Koos het ’n splinternuwe vertoning op die planke!

“Cohen, Dylan en Koos... want die liefde vra gedigte”

4 Februarie
Die Boer Durbanville
Besprekings: 021 979 1911 of 083 406 0111

5 Februarie
Metronoom Teater, Bellville
Besprekings 021 202 8819 / 084 349 9431

25 Februarie
Die Blou Hond Pretoria
Bespreek by 012 348 8820 
www.casatoscanan.co.za

 

“Cohen, Dylan en Koos... want die liefde vra gedigte”
Koos peins en sing en neem jou saam na daardie geheimsinnige plekke van die hart met ’n versameling van sy eie werke asook sy nuutste projekte - Leonard Cohen asook Bob Dylan se treffers verewig in Afrikaans! Met Koos agter die mikrofoon transformeer bekende treffers soos ‘Dance Me. To The End Of Love’ (Dans My Na Die Einde Toe), ‘Halleluja’ ‘To Make you feel my love’ (Dat Jy My Liefde Voel) en ‘Hey Mr. Tambourine man’ (Mnr. Die Tamboerynman) tot pure Cohen en Dylan, in tipies melankoliese en betowerende styl!

Vir dié wat gewillig knak voor elke lied en gedig wat omgaan met die hart se skaduwees asook stukkies sonskyn, is hierdie geleentheid ’n moet!
 
Bespreek Koos gerus vir fondsinsamelings, huiskonserte of ander geleenthede:  yolandi@koosvandermerwe.co.za
 
  
Kyk uit vir ons Februarie nuus propvol US Woordfees inligting. Koos is hierdie jaar in 3 optredes te sien! Kaartjies reeds beskikbaar by Computicket.
 


Om hierdie nuusbrief te ontvang, gaan na www.koosvandermerwe.co.za en vul jou besonderhede in by 'Kry Koos Nuus'.

Vir meer inligting en besprekings,
kontak gerus vir Yolandi by:
082 325 3053 of yolandi@koosvandermerwe.co.za.




Tot volgende maand!

Yolandi van der Wath

Kersfees is om die draai
 
Is Kerstyd vir jou ook feesviertyd? Ek hoor kort-kort mense wat hulle nie aan Kerstyd steur nie omdat dit sogenaamde “Heidense invloede” het. Dat Kersfees ’n kommersiële voordeel vir sommige inhou, is gewis iets wat my ook dwars in die krop steek, maar mag dit jou nie weerhou van feesvier nie! Die probleem kom in as die feestelikheid verdwaald raak soos Koos in sy gedig ‘Kersfees’ hier onder so mooi uitbeeld....
 
Ek bly steeds glo dat die feesvier van Kerstyd nie verlore moet gaan nie. Ek was so bevoorreg om ’n paar keer met Koos as toerleier, na Israel te toer. Daar in die Heilige land besef mens die belangrikheid van feesvier! Die Jode onderhou vandag nog hul groot feeste baie getrou. Dit is ’n instruksie van Jahweh. En ek glo met goeie rede. Die beplanning, afwagting, gereedmaak en dan die groot kuier en lag en die lewe geniet – was als deel van Sy plan vir ons om ’n vol lewe te geniet. Dit laat jou toe om die roetines en fokus van gewone dag-tot-dag lewe bietjie op sy te skuif. Om dit en dié, wat werklik in jou lewe belangrik moet wees, te onthou en te koester. 
 
So moenie dat die korrektheid van die datum of die kommersiële motief van sommige jou weerhou van hierdie geleentheid om Jesus saam met jou geliefde te vier nie. En mag 2016 vir jou baie vrede, geluk en feesviergeleenthede inhou!
 
 

Kersfees
 
Liggies brand op elke straat
En die mense word vir niemand kwaad
Want dit is Kersfees in ons stad
Tienduisend vader krismisse
Is nat gesweet in hul sneeumusse
Want dit is Kersfees in ons stad
 
’n honderd winkels in ’n ry
Is almal innig lief vir my
En my geldvriend sal my help betaal
En wie moet ek bedank
As ek vir iemand ’n persent kan koop
Bier kan drink tot die trane loop
Of jou lekkerlyf, my liefiewyf
Kan druk as ons dans?
 
O, ’n katjie, of ’n hondjie
Of ’n ringetjie vir jou
My dingetjie vir jou
 
Selfmoord anoniem
Se skof is nou van tien tot tien
Want geld kan nooit die liefde koop
En partytjies moet ten einde loop
 
Liggies brand op elke straat
En die mense word vir niemand kwaad
Want dis Kersfees in ons stad
 
Spaar my
Here
Spaar my
Spaar my nog ’n Kersfees
Sonder U


 




OPTREDES IN DESEMBER


2 Desember
Barklystraat teater Uitenhage
Kersfees saam met Koos
www.barklystraat.co.za
 
3 Desember
Port Elisabeth
Kersfees saam met Koos
Lynette: lynettevw@gmail.com
 
12 Desember
Jeffreysbaai
Cohen, Dylan en Koos (Want die liefde vra gedigte...)
Hardus: 082 575 1593
E-pos: hardusj@vodamail.co.za
 
18 Desember
Knysna
Kersfees saam met Koos
Adele: admin@kaleidoskoop.co.za
 
20 Desember
Heidelberg
Kersfees saam met Koos
Hanlie Uys: koerie@easycoms.co.za



 
 
Is jy in die Suid-Kaap gedurende Desember?
 
Koos is leierleraar by Eden Gemeente op George. As jy dalk in die Suid-Kaap met vakansie is, gaan loer gerus by enige van die dienste in:

Adres:
 Eden Place, Knysna Weg, Kraaibosch, George.

(Ongeveer 1 km vanaf die Garden Route mall in die rigting van Wildernis)
 

Sondag, 13 Desember
Oggenddiens om 9:30Eden Place, Knysna Weg, Kraaibosch, George. (Ongeveer 1 km vanaf die Garden Route mall in die rigting van Wildernis)

Kerssangdiens om 19:00 - 'n Kersfeesbelewenis met musiek, sang en woordkuns oor die goeie nuus van Jesus, gebore vir ons.

Sondag, 20 Desember
Oggenddiens om 9:30

Vrydag, 25 Desember
Kersdiens om 7:30 & 9:30 - Ons vier met vreudge die geboorte van ons Redder

Geen oggenddiens op Sondag, 27 Desember
                           
Vrydag, 31 Desember
Oujaarsdiens om 19:00 - Ons groet die oujaar saam met Koos van der Merwe & Hanno Enslin op klavier

 




Om hierdie nuusbrief te ontvang, gaan na www.koosvandermerwe.co.za en vul jou besonderhede in by 'Kry Koos Nuus'.

Vir meer inligting en besprekings,
kontak gerus vir Yolandi by:
082 325 3053 of yolandi@koosvandermerwe.co.za.




Tot volgende jaar!

Yolandi van der Wath
 
Daar is ’n verskil tussen gelukkig wees, en vreugde of blydskap hê.

Geluk word gekoppel aan toevallige omstandighede. Om saam met vriende te kuier of ’n nuwe motor te koop, maak jou gelukkig - ’n emosie en gemoedstoestand wat maklik kan omswaai sodat jy ongelukkig voel.
 
Vreugde is anders. Vreugde gebeur intern wanneer jy wandel met die Here -  ’n vrug van die Gees. Eintlik ’n Geestelike Dissipline. Iets wat jy elke dag moet nastreef. So kan die swaar of seerkry van die lewe kom, maar jy kan steeds vreugde hê. Soos Nehemia dit stel “Om bly te wees in die Here – dit is jul beskutting”

En so kan die einde van die jaar maklik jou vreugde steel. Moet dit nie toelaat nie. Mag die Vreugde in Jesus hierdie November ook jou krag wees!
 
 



Ek deel graag Koos se Afrikaanse weergawe van ‘Halleluja’ deur Leonard Cohen met jou

Hallelujah
 
Dit was glo 'n akkoordgeheim
Toe Dawid speel en dit God verbly
Maar vir musiek gee jy mos nie veel om nie
Die vierde eers die vyfde volg
Die mineur af die majeur op
Oorblufte koning skryf sy Hallelujah
 
Hallelujah, Hallelujah
Hallelujah, Hallelujah
 
Jy’t sterk geglo, maar toe soek jy meer
Haar naakte lyf het jy begeer
Haar skone maanligbad het jou betower
Toe bind sy jou aan haar kombuisstoel vas
Sy breek jou troon sny jou hare af
En laat jou lippe prewel Hallelujah 
 
Hallelujah, Hallelujah
Hallelujah, Hallelujah
 
Meisie ek was voorheen hier
Ek ken die vloer, ek ken die muur
Ek het alleen gebly voor ons twee saam was
Op die marmerpoort sien ek jou vlag
Die liefde is geen oorwinningsmars
Dis 'n koue en gebreekte Hallelujah
 
Hallelujah, Hallelujah
Hallelujah, Hallelujah
 
Lank terug het jy my laat weet
Wat onder werklikwaar gebeur
Maar nou wys jy dit mos nooit meer vir my nie
Ek onthou hoe’t ek in jou beweeg
Die heilige duif het saam beweeg
En elke asemteug was Hallelujah
 
Hallelujah, Hallelujah
Hallelujah, Hallelujah
 
Miskien is daar 'n God daarbo
Van liefde het ek net dit leer glo
Hoe skiet jy iemand wat jou reeds in skoot het
Dis nie 'n roep wat snags weerklink
Dis nie een wat sê hy’t die lig gevind
Dis 'n koue en gebreekte Hallelujah
 
Hallelujah, Hallelujah
Hallelujah, Hallelujah
 
Jy sê ek laster daardie naam
Maar ek ken skaars dan daardie naam
Selfs as ek het wel hoe raak dit jou regtig?
Daar’s 'n vlam van lig in elke woord
Al het jy watter woord gehoor
Die heilig of gebreekte Hallelujah
 
Hallelujah, Hallelujah
Hallelujah, Hallelujah
 
Dit was my bes, min wat dit was
Ek kon niks voel, toe probeer ek vat
Ek praat die waarheid ek wou jou nie flous nie
Al het dit als verkeerd gegaan
Voor die Heer van Sang sal ek gaan staan
Met niks op hierdie tong net Hallelujah
 
Hallelujah, Hallelujah
Hallelujah, Hallelujah




 

NOVEMBER OPTREDES

11/11 @ 19:00         Tamboerynman - Koos sing Bob Dylan
                               Potchefstroom, Cachet Teater 
                               R120 per persoon 
                               Kaartjies by 
http://www.artema.co.za

12/11 @ 19:00         Cohen, Dylan en Koos. In Afrikaans
                               Pretoria, Pierneef Teater
                               R110 / R120 per persoon

                               Kaartjies by www.pierneefteater.co.za

13/11 @ 18:00         Cohen, Dylan en Koos. In Afrikaans
                               Bloemfontein, Aasvoelklub
                               R100 / R120 per persoon
                               Kaartjies by
www.vulture-aasvoelclub.com

14/11                       Jukebox - Lewendige uitsending

15/11                       Gesinsdiens, Kempton Kruin Gemeente  
                               Navrae: Michelle van Tonder 083 649 8301


17/11 @ 19:00         Rechardt van den Bergh Biografie Vrystelling
                               Pretoria, Atterbury Teater
                               R120 per persoon    
                               Kaartjies by Computicket

 
18/11                       Tamboeryman – Koos sing Bob Dylan
                               Klerksdorp
                               Navrae by
 tertius@oasegemeente.co.za

23/11                       Tamboeryman – Koos sing Bob Dylan   
                               
Prins Albert, Showroom Teater
                               R100 per persoon 
                               Kaartjies by
 www.heshowroomtickets.com
 



Om hierdie nuusbrief te ontvang gaan na www.koosvandermerwe.com en vul jou besonderhede in by 'Kry Koos Nuus'.

Vir meer inligting & besprekings, kontak gerus vir Yolandi by:
082 325 3053 of yolandi@koosvandermerwe.co.za

 
 
Mag November vir jou net vreugde en blydskap inhou!

Yolandi van der Wath
Nog drie maande dan is 2015 vir altyd deel van gister. Ek deel met jou 2 van Koos se gedigte. Sit ’n oomblik agteroor en laat toe dat die woorde met jou praat - voor dié week in Oktober ook weer soos meeste ander verbysnel...

 

WEEK
 
ek het niemand dit vertel nie
dit was geheel privaat
ek was nie vergesel nie
het selfs myself verlaat
 
minder as alleen
en verder as verdwaal
geen raad of vloek of seën
geen woede klank of taal
 
als wat daar was was leeg
en dele was ook dood
dis wat ek daarvan weet
so het my week verloop

 
 
IN DIE STILTES
 
in die skuil tussen stiltes
in die heilige wind
in die skuil tussen stiltes
daar sal hy jou vind
met balsem en olie
en ewige wyn
waar angste van dolheid
in die eenkantkom kwyn
in die skuil tussen stiltes
is woorde van hoop
is dit moontlik om weer
jou siel terug te koop




 
 
TAMBOERYNMAN NUUS

Koos se nuutste CD-projek, Tamboerynman is nou beskikbaar by Musica en ander uitsoek CD winkels. 2016 Besprekings is ook reeds oop, so opskud as jy ’n optrede in jou omgewing wil reël!
 
Die musiek video van ‘Waai Daar In Die Wind’ is opgeneem in Koos se tuisdorp, George. Loer gerus..
.

 
 

OKTOBER OPTREDES

21/10     Nelspruit                             Theresa by theriza@nelnet.co.za
22/10     Akasia, Pta. Noord             Liza by info@castadiva.co.za
23/10     Vereniging                          Hailene by weddings@threeriverslodge.co.za
30/10     Windhoek                           Ashanti by info@twafiika.com
31/10     Gobabis                              Ida by gobabisdam@mweb.com.na
01/11     Windhoek                           Danielle by pragt4@gmail.com 

 
 
 

SLUIT 2015 AF MET ’N
AAND 
SAAM MET KOOS


 


Om hierdie nuusbrief te ontvang gaan na www.koosvandermerwe.com en vul jou besonderhede in by 'Kry Koos Nuus'.

Vir meer inligting & besprekings, kontak gerus vir Yolandi by:
082 325 3053 of yolandi@koosvandermerwe.co.za


 
Mag Oktober vir jou net vrede en voorspoed inhou!

Yolandi van der Wath